Marita se hart

Nou ja, ek dink nie ek kan waarlik die jaar opsom, behalwe dat die jaar my ‘n paar keer tot stillstand geruk het. Ek het besef dat ons lewe soms verskillende lewensbootjies het. Ons klim oor van een, om getroud te wees, na ‘n ander, en ‘n gesin te begin…Daar is ‘n paar bootjies deel van ons lewensstorie.

Niks kan mens waarlik voorberei op die lewensstorms wat mens tref. Golwe van chaos wat my lewensbootjie heen en weer ruk en pluk. Nou en dan val daar ‘n drupel reën van seën om jou net bietjie hoop te gee. Ek kyk op na die golwe waar sal my hulp vandaan kom??

Al wat ek weet is, as daardie sterk see strome en storms om jou woed, moet jy jou anker wat in die Here gevestig is uitgooi. Daardie anker is al wat jou lewensbootjie gaan red.

Ek het in Januarie 2022 gesê, hierdie jaar gaan ‘n groot jaar vir ons wees, en Januarie het goed afgeskop, maar 27 Februarie het die eerste storm my bootjie getref: My stiefpa, wat soos my eie pa was, en die ongelooflikste oupa was, is oorlede. Dit het my lewensbootjie in vlenters gelaat. Ek het soos ‘n wrak in die see gedryf. Die tekens van die storm was daar, maar my bootjie het hom vir lank misgeseil.

Stadig maar seker het ek my bootjie se seil met garing van geloof weer begin vaswerk. Die seil sou nooit weer dieselfde wees, want mens se lewe is nooit weer dieselfde as jy iemand naby aan jou verloor. My bootjie moet weer seil want ek moet sterk wees vir my man, my 3 kindertjies, my mamma wat haar lewensmaat verloor het, my besigheid… ag sommer net vir almal. Daar is nie tyd om rond te dryf in die see. Ek weet ek moet sterk wees terwyl ek voel my bootjie gaan enigetyd omkantel.

Met donderwolke op die horison, is ons dogterjie in April gediagnoseer met Covid, wat binne 2 dae in ‘n donderstorm sonder ‘n einde sou ontaard. Haar blindederm bars net voordat sy ingaan teater toe. Ek kan die pyn in haar hande voel soos wat sy sê “Help, hoekom wil julle my nie help”. Op en af in die gange van ‘n hospital was ons lewe vir 9 dae. Uiteindelik is ons huistoe, maar dit was slegs die oog van die storm. 3 dae daarna is sy weer opgeneem met absesse in haar buik, en ‘n verdere 10 dae in die hospitaal. Waarom Here, waarom??? Almal bid vir haar, almal help waar hulle kan terwyl ons al die balle in die lug probeer hou met werk, besigheid, kinders en siekte. Na die derde keer in die hospitaal is sy ontslaan. ‘n Maand weg uit haar lewe. Haar hart was in stukke oor alles waarop sy uitgemis het en uitdagings wat sy nog verder moes moet deurmaak.

Einde Mei het ek gevoel of die Here my vir my ‘n “stillstand storm” gestuur het. Jy moet stadig, jy moet rustig raak, maak tyd vir My, maak tyd vir dinge wat belangrik is.

Ek bid en vra : “Here asb. Help my om vir die res van die jaar “smooth sailing” te ervaar.

“But here we go again”…Besighede begin swaar trek agv krag onderbrekings. Dag na dag hoor ons hoe die gedreun van kragopwekkers ons besighede stadig maar seker begin insluk. Besighede om ons maak toe en verloor alles. Die romp van my lewens bootjie het ‘n stamp of 3 al weg, en dis omvermybaar dat ek besig is om te sink. Ek sien vir Jesus op die water staan en soos vir Petrus, vra waar is my geloof, hoekom vertrou ek nie op Hom nie?? Jy het nie ‘n boot nodig as jy op water kan loop? Dis asof die lewensbootjie van die eie ek self eers deur storms moes gaan om te besef ek kan op water loop met God aan my kant.

Ons elkeen het ‘n lewensbootjie, dit leer ons om deur die storms van die lewe te kom, en dan kom God en gee ons die geleentheid om so rukkie saam met hom op die water te loop. Hy gee ons die nodige krag, rus, genade, liefde en vrede om weer terig te klim in ons bootjie om die volgende vaart aan te vat. Die keer met ‘n STERKER bootjie want ons geloof is geanker in Hom.

Mag 2023 ‘n “jaar wees waarop jy op water loop”. Mag jou geloof geanker wees in die Here.

Open chat
We're here to help ☺️
Powered by Happiness 👶
Hi there 👋

If you have any questions about ANYTHING on the Marita se hart page, simply ask here 👐